| IT-maatskappy in SA imponeer Microsoft
Johannesburg, 3 Maart 2002 - Die Suid-Afrikaanse inligtingstegnologiebedryf is nie bekend as ‘n bron van unieke, nuwe programmatuurontwikkeling nie.
SourceCode Technology Holdings, wat op werkvloei en integrasieprogrammatuur fokus, het egter die belangstelling van ‘n waagkapitaal maatskappy geprikkel wat meen die situasie kan verander. Microsoft toon ook belangstelling.
Die spesialis IT belegger Treacle Venture Partners het ‘n 25% belang verkry in SourceCode. K2.net, SourceCode se hoofproduk, is ‘n vinnige prosesintegrasiewerktuig met ingeboude proseslogika op die Microsoft platform.
K2.net help maatskappye met ingewikkelde toepassingsintegrasie en werkvloeibestuursake om ‘n proses vinniger te dokumenteer en te verbeter.
Aangesien k2.net in die proses met die toepassings geïntegreer word, kan SourceCode breedvoerige bestuursinligting oor alle aktiwiteite in die proses verkry, wat deurlopende prosesverbetering moontlik maak en sodoende tot aansienlike kosteverminderings lei.
SourceCode is in 1997 as ‘n programmatuurontwikkelingshuis deur mnre Adriaan van Wyk, Lenz le Rouw and Olaf Wagner gestig en die k2.net produk is verlede jaar aan die mark bekend gestel.
Volgens mnr Adriaan van Wyk, SourceCode se bestuurende direkteur, is die produk gou aanvaar.
“Ons het ‘n goeie verwysingsgrondslag gevestig en is besig om ons verkoops-en-leweringskanaal aktief te ontwikkel.”
“Met die doel het ons toonaangewende IT implementeringskonsultante as ons kanaalvennote aangestel.”
Onder sy klante tel Nedbank, wat die programmatuur met sukses in ‘n aantal van sy afdelings gebruik, asook Glenrand MIB.
“Adriaan, Lenz en Olaf het ons beindruk as programmatuurontwikkelaars en ons glo hulle sal daarin slaag om unieke programmatuuroplossings te ontwikkel, nie net vir Suid Afrika nie, maar ook vir die internasionale mark,” sê mnr Rudolf Pretorius, ‘n Treacle vennoot, met verwysing na die belegging.
Hy sê voorts SourceCode is genooi om Microsoft se ontwikkelingspan, met sy hoofkantoor in Redmond, Seattle, in die VSA, te ontmoet.
“Microsoft is so beindruk met wat hy oor SourceCode van sy Suid-Afrikaanse span verneem het, dat hulle verder wil gesels. Dit is bemoedigende nuus, want die plaaslike IT bedryf is nie beroemd om die ontwikkeling van unieke, nuwe programmatuur nie. Ons glo SourceCode kan dié situasie heel moontlik verander.”
Dit is die tweede belegging wat Treacle die afgelope paar weke aangekondig het. Dit volg kort op sy 22,5% belegging in Parsec, wat hom toespits op uitgekontrakteerde toerusting-en-programmatuurontwerp-en-ontwikkelingsdienste vir die telekommunikasie en verdedigingsbedryf.
|